Die dag toe geld weer god geraak het

Die oomblik toe ons baklei en jy sê vir my dat dit vir jou voel of ek net julle goedheid misbruik het jy die mat heeltemal onder my voete uitgepluk. Ek’t nooit gedink jy, van alle mense, sal hierdie woorde uiter nie.

Jy vir wie ek geidoliseer het, jy wat my altyd opgehelp het, jy wat my beter ken as enige iemand, wat weet wat my swak punte is. Hoe kon jy een van hierdie swak punte gebruik het om my dieper in die dam in te stamp sonder om net ‘n klein bietjie sleg te voel?

Ja, ek mag dalk nie soveel hê soos julle nie, ek mag dalk aan minder gewoond wees, ek mag dalk moet harder werk vir die goed wat ek wil hê terwyl jy net kan vra en dit ontvang. Ja ek is gewoond aan minder maar dit was en is nie veronderstel om ons te beïnvloed nie – dit het ek jou tog mooi gevra aan die begin. Jy’t geweet wie ek was en van waar ek vandaan kom, en steeds het jy my gekies maar dis asof jy jou besluit nou berou.

Terwyl jy nou dink aan watse slegte mens ek is, onthou net wie jou opgetel het as jy self nie kon nie, wie in die oggendure vir jou oopgesluit het en kos gemaak het, wie jou trane afgevee het en wie haar bed vir jou afgestaan het. Terwyl jy nou dink aan die slegte goed – dink ook aan die kere wat JY my verneder het, my geheime aan vreemdelinge ontbloot het, my met trane gelos het om “oor myself te kom”. 

Die hele wêreld wat om geld wentel maak my naar, dit laat my voel asof die heelal net-net buite my bereik bly, asof daar klaar besluit is dat ek ‘n outcast sal wees in hierdie samelewing op aarde. Die goddelike status wat aan onbelangrike items gegee word laat my onttrek, ek stel nie meer belang in dinge wat voorheen my aandag getrek het nie, ek stel nie meer belang in enigiets nie. 

Advertisements